ALGEMENE VRAE
Q: Vir watter ouderdom baba is die eetplan bedoel?
A: Baba & Kleuter se Eetplan vir Baba dek die heel eerste 12 weke van vaste kos. Geen baba behoort voor vier maande met vaste kos te begin nie, en babas behoort ook nie te lank ná ses maande te begin nie. As jou baba dus in hierdie venster val van tussen vier en ses maande oud, en jy het besluit dis tyd om te begin, is die eetplan vir julle. As jy huiwerig is, en jou baba is aan die jong kant van die venster, kan jy gerus met jou pediater of klinieksuster gesels oor of jou baba reg is. Dis nie nodig om oorhaastig te wees nie, want jou borsmelk voorsien in jou baba se voedingsbehoeftes. Die eetplan is geskik vir normale, gesonde babas wat nie vroeg gebore is nie, en wat nie enige voedingsverwante probleme, spesiale behoeftes, of ‘n geskiedenis van allergieë het nie. Dis nie vir vegetariërs nie.
Q: Wat kry ek alles met die eetplan?
A: Die eetplan lei jou geleidelik oor die loop van 12 weke van die heel eerste happie vaste kos in week 1: dag 1 tot babakos wat al meer soos gewone kos begin lyk. Vingerkos word ingesluit, en in week 11 is die klem op hoe om vir jou baba te bak. In week 12 leer jy hoe om gesinskos aan te pas vir jou baba. Die groot doel is om jou baba goed oppad te kry om teen ‘n jaar min of meer te eet wat julle as gesin eet. Die eetplan bevat meer as 80 resepte met foto’s. Elke week kry jy ‘n PDF van die week se maaltye wat jy kan druk. Dit sluit ontbyt, middagete en aandete in. Daar is ook elke dag ‘n stukkie om te lees. Jy sal geïnspireer word en leer hoe om self babamaaltye te maak. Elke week sluit ‘n inkopielys in. Die resepte is Suid-Afrikaans en maak gebruik van doodgewone bestanddele wat plaaslik te kry is.
Q: Ek is nie ‘n goeie kok nie – maak dit saak?
A: Glad nie. Die eetplan is ontwerp om jou tyd in die kombuis te bespaar. Babakos is baie eenvoudig om te maak. Vir babas kan jy in grootmaat kook en porsies vries. Jy hoef ook nie die program slaafs te volg nie. As jy genoeg in die vrieskas het, kan jy resepte oorslaan, of op ‘n ander dag probeer. Jy kan die inkopielyste vooraf lees sodat jy weet wat kom en sodat jy die res van die gesin se maaltye met jou baba s’n kan laat ooreenstem. Ons wil regtig nie hê dat jy apart inkopies doen en apart vir jou baba kook nie.
Q: Ek woon in die buiteland. Kan ek steeds die eetplan volg?
A: Ja, geen probleem. Jy kan van enige plek inteken, van Kathu tot Kathmandu.
Q: My baba is vyf maande oud en ek wil allergene vermy. Is dit reg so?
A: Kliniese dieetkundige Anel Kirsten sê: Kos wat allergene (stowwe wat allergieë veroorsaak) bevat, sluit in vis, eiers, gluten, graan, soja, neute en koeimelk. In die verlede is ouers aangeraai om met sulke kos te wag tot hul baba ’n jaar oud is ten einde voedselallergieë te vermy. Maar onlangse navorsing het dié riglyne op hul kop gekeer en daar word nou gemeen dat dit nie net veilig is om jou kind vroeër aan allergene bekend te stel nie, maar soms selfs wenslik. Die Amerikaanse akademie van pediatrie het byvoorbeeld hul deuntjie hieroor verander nadat navorsing gewys het dat die laat of uitgestelde bekendstelling van allergeenbevattende kos nie ’n invloed het op jong kinders se kans om op lang termyn kosallergieë te ontwikkel nie. Volgens die Amerikaanse akademie van allergie, asma en immunologie is die beste manier om jou baba teen allergieë te beskerm juis om hom vroeg reeds aan allergene bekend te stel. Hul nuwe riglyne is gekant teen laat of uitgestelde blootstelling omdat dit kinders op lang termyn moontlik meer skade as goed kan berokken en selfs jou baba se kans op allergiese reaksies kan verhoog. Volgens die nuwe riglyne kan jy dus al tussen vier en ses maande vir jou baba die allergeenbevattende kos begin gee. Navorsing het onder meer gewys dat blootstelling aan vis voor nege maande oud die gevaar van ekseem tot op een jaar verlaag. Daar is ook nuwe raad oor grondbone. Selfs hoërisiko-babas (dié met bestaande ekseem of ’n eierallergie) kan van vier maande af al grondboontjies begin eet – ’n mens kan dus byvoorbeeld grondboontjiebotter in hul pap meng. Moet daarom liewer nie allergene uit jou kind se dieet laat nie, tensy sy in die verlede allergies op sekere kossoorte gereageer het. In laasgenoemde geval moet jy liewer by ’n dieetkundige gaan kers opsteek. Die bekendstelling aan enige nuwe kossoort moet een op ’n slag en in klein hoeveelhede geskied. Begin met ’n nuwe kos en wag dan drie dae voor jy iets anders byvoeg. Dis omdat allergiese reaksies soms eers ná ’n paar dae sigbaar is. Borsmelk help om teen allergieë te beskerm en as jy borsvoed, kan jy dus gerus daarmee volhou terwyl jy jou baba aan die tipiese allergeen-sondaars bekendstel. Studies het gewys dat as borsvoedende babas tussen vier en sewe maande aan ’n stof soos gluten bekendgestel word, dit die gevaar van seliaksiekte, tipe 1-diabetes en graanallergie verminder.
Q: Hoe lyk ‘n allergiese reaksie?
A: Dieetkundige Inge van Niekerk sê: Matige simptome (wat die vel, asemhalingstelsel of spysverteringskanaal beïnvloed) is ‘n rooi gesig, opgehewe rooi uitslag om die mond, tong of oë (kan na die lyf versprei), swelling, spesifiek van die lippe, oë of gesig, toe of loopneus (genies), waterige oë, naarheid en braking, maagkrampe en diarree, bloederige stoelgang of jeukerige mond en keel. Ander simptome wat oor ’n tydperk uitslaan is ekseem, refluks, vertraagde groei, hardlywigheid en diarree, maagseer, knieserigheid wat met huil gepaardgaan. Indien jou kind enige van die bogenoemde simptome wys, moet jy haar liefs dokter toe neem.
Ernstige simptome sluit in ‘n toe of fluitbors, swelling van tong en keel wat die lugweg laat toetrek, swaar asemhaling, hoes of heesheid, skielik dalende bloeddruk, duiseligheid, deurmekaarheid, verlies van bewussyn en ’n swak, vinnige pols.
Die goeie nuus is dat die meeste kinders hul allergieë teen omtrent vyf jaar oud ontgroei, veral allergieë vir melk, eiers, soja en koring. Allergiese reaksies op neute, vis of skulpvis word egter nie maklik ontgroei nie.
Afhangend van die soort allergie kan toetse elke 12 tot 18 maande uitgevoer word om vas te stel of die allergie al ontgroei is.
Reaksies kan binne minute of eers ’n week later plaasvind, hoewel die meeste binne 28 uur inskop. As jy onraad vermoed, hou op om die kos te gee en maak ’n afspraak by jou dokter.
Hou in gedagte dat die simptoom of simptome deur iets anders veroorsaak kon gewees het en dat die allergeen dalk nie die sondebok is nie.
Neem jou baba dadelik hospitaal toe as die reaksie ernstig is, soos as sy moeilik asemhaal of kwaai opswel. So ’n hewige reaksie word anafilakse genoem en kan lewensbedreigend wees.
Q: Moet ek ophou borsvoed wanneer my baba met die eetplan begin?
A: Nee, asseblief nie! Hou aan om op aanvraag te borsvoed, net soos altyd. Mik om so lank as moontlik aan te hou, selfs tot jou baba ‘n peuter is. Selfs tussen die ouderdom van 12 en 18 maande kan borsmelk in ‘n derde van jou baba se voedingsbehoeftes voorsien en daarna kan dit nog steeds deel wees van ‘n gebalanseerde dieet. Solank as wat borsvoeding aanhou, dra jy jou immuniteit aan jou baba oor. Daar is nét voordele aan borsvoeding verbonde en geen nadele nie. Vir die duur van die eetplan, wil ons hê dat jy aan die kossies dink as bykomend tot die borsmelk, en nie andersom nie.
Q: Ek wil “Baby Led Weaning” probeer. Sal hierdie eetplan help?
A: Nee. Babageleide spening is wanneer jou baba slegs vingerkos kry wat hy self moet leer eet, van die heel begin af, en geen puree of kossies van ‘n lepeltjie word gegee nie. In dié eetplan lê ons wel baie klem op vingerkos, maar die eetplan is meer tradisioneel en hoofstroom as babageleide spening. Dit begin met puree, en bakkies kos met tekstuur word geleidelik bekendgestel. Baie van die beginsels van babageleide spending kombineer egter goed met die beginsels van dié eetplan wanneer dit by vingerkos kom.
Q: Sluit die eetplan kommersiële babapap in?
A: Ja. Laat ons verduidelik: Kommersiële babapap uit ‘n boks het baie ongewild geword, omdat dit geprosesseerde kos is wat dikwels baie suiker bevat. Dis hoekom dit belangrik is dat jy goed lees wat op die boks staan. Een van die groot voordele van babapap, buiten gerief en die feit dat babas daarvan hou, is dat baie van dié pappe met yster verryk is. Dit kan ‘n uitdaging wees om ná ses maande genoeg yster in jou baba se lyfie te kry, en ‘n goeie babapap is aanvanklik die maklikste manier om in dié bitter belangrike voedingsbehoefte te voorsien. Kies dus een wat hoog is in yster, en laag in suiker. Die eetplan maak voorsiening daarvoor dat soos wat ander ysterbronne ‘n gereelde deel van die plan word, die pap geleidelik uitfaseer word. Ander flessies babakos kan op bystand in die koskas gehou word, vir daardie dae wanneer jou kookplanne nie uitwerk nie. Natuurlik is jou eie kos die beste, maar winkelkos is darem ook nie gif nie. As jy vasbeslote is om gekoopte babapap te vermy, is daar ‘n resep vir babahawermout wat jy in die plek van die babapap kan gebruik.