HOE DIT WERK

Welkom by Baba & Kleuter se Eetplan vir Baba!
Jy en jou baba gaan vir 12 weke op ‘n heerlike
kosavontuur gaan. Geniet die reis!

  • Stres jy oor wat jou baba alles kan eet en in watter vorm?
  • Is jy bekommerd oor voedingstowwe?
  • Is jy onseker oor wat jou baba nie mag eet nie?
  • Soek jy idees en inspirasie sodat jou baba van die kos sal hou?

Dan het jy by die regte plek uitgekom!

Baba & Kleuter se eetplan van 12 weke is ontwerp om jou te help om self vir jou baba kos te maak, van die eerste puree tot vingerkos en oulike maaltye wat ál die voedselgroepe insluit.


Meer as 80 eenvoudige resepte, met foto’s sodat jy kan sien hoe die kossies moet lyk.

Leer hoe om babakos uit gesinskos te maak sodat jy nie ure in die kombuis hoef deur te bring nie.

Dag vir dag plan wat oor 12 weke strek, logies uitgewerk sodat jy nie elke dag hoef te kook nie, maar vorige maaltye uit die vrieskas ook kan gebruik.

Elke week kry jy:

  • ‘n Stukkie om elke dag te lees, vol uitstekende raad en wenke oor babakos.
  • ‘n Weeklikse inkopielys.
  • ‘n Maaltydplan vir elke dag.
  • Resepte vir die week en voorstelle vir elke maaltyd.

Baba & Kleuter se Eetplan vir Baba is ‘n spesiaal ontwerpte aanlynplan wat die bekendstelling van babakos in ‘n lekker avontuur verander.

Lê nou die boustene vir lewenslange goeie eetgewoontes.

Ons wil jou lewe makliker maak:

  • Jy gaan nie elke liewe dag hoef te kook nie!
  • Die resepte maak van vars bestanddele gebruik wat alles maklik te kry is.
  • Jou baba gaan alles leer eet – vrugte, groente, vleis, vis, eiers, suiwel, bone en graanprodukte.
  • Met die fokus op vars kos is daar ‘n groot kans dat die hele gesin gesonder gaan begin eet.

‘n Paar dinge om in gedagte te hou voor julle wegtrek met die eetplan

  • Hou aan borsvoed
    Wanneer jy borsvoed, doen jy die heel beste ding vir jou baba, want borsmelk is die ideale kos. Dink aan die vaste kos wat jy gaan begin gee as aanvullend tot die melk, nie andersom nie. Dit geld vir tot op ‘n jaar. Daar is net mooi geen nadeel aan borsvoeding nie, en net voordele. Voed dus solank jy kan. Borsvoeding gaan jou ook help om meer gerus te voel oor baba se voeding in die algemeen, want as baba ‘n dag of wat nie goed eet nie, weet jy dat hy steeds sy voedingstowwe inkry deur jou borsmelk.
  • Is baba reg vir vaste kos?
    Almal het ‘n opinie, né? Jy is egter die ma, en jy besluit. Ses maande is ‘n goeie tyd om te begin, maar babas is nie almal identies nie. Sommige is bietjie vroeër reg, en ‘n paar ‘n rukkie later. Wat wel ‘n reël is, is dat geen baba voor 17 weke moet begin nie. Tekens dat baba reg is: Sy stel belang in kos en gryp selfs daarna, sy sit al goed en het goeie kopbeheer. Moenie haastig wees nie. As jy twyfel, wag nog ‘n week of wat en begin op ses maande.
  • Hoe lyk ‘n allergiese reaksie?
    Kosse wat maklik allergieë veroorsaak is eiers, melk, grondboontjies, neute, vis, soja en koring. Dit beteken nie jy hoef dit uit te sny nie. Wees egter op die uitkyk vir ‘n reaksie soos ‘n rooi gesig, opgehewe uitslag om die mond, tong en oë, swelling van die lippe, oë en gesig, loopneus, waterige oë, naarheid en braking, krampe, diarree en bloederige stoelgang of jeukerige mond of keel. Gaan sien ‘n spesialis vir ‘n diagnose.
  • Spesiale behoeftes
    Hierdie eetplan is vir gesonde voltermynbabas wat nie ly aan refluks of enige ander siekte nie. As jou baba spesiale behoeftes het, of as julle ‘n familiegeskiedenis van allergieë het, is dit beter om onder die leiding van ‘n dieetkundige of allergie-spesialis met vaste kos te begin.
  • Beginsels van babakos
    Met hierdie eetplan wil ons jou help om ‘n goeie fondasie te lê vir jou kind se voorkeure as volwassene. Hoe groter die verskeidenheid kosse wat jou baba leer eet, hoe minder fiemies sal hy later hê. Hoewel ons jou help om babakos te maak in hierdie 12 weke, is die idee dat jy, terwyl jou baba leer eet, die oog op die groot doelwit hou: ‘n Baba wat teen ‘n jaar of 18 maande eet wat julle as gesin eet.

Wonder jy oor nog iets? Gaan loer by die afdeling vir
algemene vrae.

Maak reg vir ‘n heilsame kosavontuur met maklike resepte. Dis die begin van heerlike maaltye met almal saam om die tafel – baba ook.

Onthou om die kamera reg te hou vir daardie eerste happie!